SPARKIENUUS
EN BUITEMUURSE
AKTIWITEITE

Geagte Elsparkie Mamma en Pappa,
Baie dankie aan al ons ouers wat die inligtingsaand bygewoon het. Ons waardeer dit dat u op ʼn weeksaand bereid was om tyd by die skool te spandeer.
Addisionele aktiwiteite
U het reeds die informasie en inskrywingsvorms ontvang vir die ekstra aktiwiteite wat by Elsparkie kleuterskool aangebied word. Hierdie aktiwiteite is nie verpligtend nie en word nie deur Elsparkie kleuterskool aangebied nie, maar deur mense van buite. Betaal asseblief alle geld vir die aktiwiteit direk aan die persone verantwoordelik daarvoor.
Ons rig ook ʼn versoek aan u as ouer om die betaling van u skoolfonds as eerste prioriteit te beskou en die ekstra aktiwiteite as tweede prioriteit. Ons het gevind dat sommige ouers hul kleuters aan alle ekstra aktiwiteite laat deelneem en dit getrou betaal, maar dan versuim om die kleuterskoolgeld te betaal.
Dankie dat ons op u kan staatmaak vir u samewerking in die verband.
Valentynsdag
Vrydag, 14 Februarie is Valentynsdag en mag die kleuters iets rooi aantrek. Ons vra ʼn R10 donasie om bak en brou aktiwiteit met ons kleuters te doen op hierdie dag.
Poppekasvertoning
Donderdag, 27 Februarie wil ons, ons kleuters bederf en verras met ʼn poppekasvertoning. Die kleuters vind hierdie vertonings altyd baie leersaam en terselfdertyd baie genotvol. Die koste hieraan verbonde is R25 per kleuter. U kan dit nou reeds by u kleuter se klasonderwyseres inbetaal.
Snoepie en verjaarsdae
Kleuters mag elke dag kos by die snoepie koop, maar slegs op Vrydae mag hulle lekkers koop. Te veel suiker maak ons kleuters baie woelig en maak dit moeilik vir hulle om te konsentreer. Vermy ook asseblief gaskoeldranke. Vrugtesap of water sal ʼn beter plaasvervanger wees. R15 vir lekkers op ʼn Vrydag sal voldoende wees.
Indien u kleuter verjaar, wil ons vra om of “cupcakes” of partytjiepakkies te stuur. Moet asseblief nie albei stuur nie, die kleuters mors met die eetgoed. Uit ons ondervinding geniet hulle partytjiepakkies baie meer as “cupcakes”.
Tema’s wat behandel word vir Februarie:
3 – 7 Februarie: Gesondheid en Higiëne
10 – 14 Februarie: Gesondheid en Higiëne
17 – 21 Februarie: My Sintuie
24 – 28 Februarie: My Sintuie
Gelukwensing
Baie geluk aan die volgende personeel wat in Februarie verjaar, mag dit ʼn mooi jaar vir julle wees!
8 Februarie: Juffrou Suzette Walters
20 Februarie: Juffrou Chanté Hancock
Dink hieroor na:
Baie mense is so bang om dood te gaan
dat hulle nooit begin lewe nie.