JUKSKEI

INLIGTING OOR JUKSKEI

Jukskei het ʼn spontane ontstaan uit die behoefte vir ontspanning, tydverdryf, die uitbou van die kompetisiegees en om sosiaal met ander te verkeer en kan tot en met 1734 terugdateer word. Die eerste amptelike wedstryd het op 4 November 1939 op Keerweder (Klein-Drakenstein) plaasgevind en tot vandag toe neem ongeveer 65 Elsies jaarliks aan die liga deel.

Jukskei het ontstaan as kultuurgebonde aan die Afrikaanssprekende, maar het deur mededinging, uitbreiding en afronding al hoe meer wetenskaplik en inklusief geraak, terwyl al hoe meer persone van ander kulture daarin begin belangstelling toon. Die naam is afkomstig van die oorspronklike voorwerp waarmee die sport aanvanklik beoefen is, naamlik die skei wat uit die juk van die os getrek is (Taljaard, 2001:3).

Leerlinge van Gr. 1 – 7 neem spontaan aan hierdie sportsoort deel en pluk die vrugte van vaardighede wat jukskei inhou, naamlik die aanleer van dissipline en roetine, groot motoriese ontwikkeling, konsentrasie verbetering, sosiale vaardighede, leierskap, probleemoplossing, wiskunde in praktyk en impulsbeheer. Daar is plek vir elke kind wat opdaag en oefengroepe ontvang afrigting vir beginners. Laerskool Elspark voorsien ook skeie op ʼn uitleen-basis vir die kinders wat nog nie skeie aangekoop het nie of net eers jukskei ʼn probeerslag wil gee.